Ek het iets gedoen wat ek nie moes nie. Ek het die man wat veronderstel is om my pa te wees genooi vir middagete – terwyl hy by sy nuwe familie kuier. Ek het hom hierdie kans gegee omdat ek gedink het, miskien – net miskien – het hy al besef dat eie familie dalk meer beteken as ander mense.
Wil jy 12 uur iets gaan eet? Ek sal jou optel. Stel nie belang om in te kom of een van hulle saam te vat.
Sy reaksie?
Ek kan nie
– die kleinseun van haar* wil Pretoria toe gaan om sy sussie te gaan haal
Dit sou lekker gewees het om te kon uitgaan
Ek sit net hier in die son
*(die ding van Delmas)
Ek het die boodskap gelees. En ek het dit nie net gelees nie – ek het dit verstaan.
Wat ek hoor, is nie lekker om te hoor nie, want dis net nog ‘n klap. In plaas van om iets te sê soos “wat van more of oormore” gaan dit oor ander mense se planne. Die ander mense wat hy bo sy eie kind en kleinkinders gekies het.
Ek het al geleer om nie te veel van hom te verwag nie. Ek het my hand uitgesteek. Ek het die moeite gedoen. En nou is ek klaar.
