Ek het altyd gedink dis net slegte mense wat hul ouers weggooi. Ek het nooit eers daaraan gedink dat daar soveel meer aan sulke stories kan wees nie. Sulke mense was net sleg…
Toe eendag gooi ek my pa weg.
Die dag dat ek die vrou van Delmas ontmoet het terwyl sy aan my pa vasklou en my vyandig aangluur, was die dag wat ek besef het my pa het ons vervang. Dit het my soos ‘n vuishou op my hart getref, ek (en my ma, en my kinders) het niks vir die man wat my pa was, beteken nie.
Die vrou van Delmas en haar dogter het goed oog gehou terwyl ek my ma se goed gepak het. Toe ek die laaste boks wat in die kar kon pas in het, het die dam van emosies gebreek. Ek het op hom geskreeu. Ek wou he hy moes my hoor.
Ek kon voel hoe my woorde op die grond val sonder dat hy my seer hoor en iets het net in my gebreek.
Al die strooi wat ek van weet wat hy aangevang het, die gagga-vroue wat hy “verlief op raak”… Die vrou wat amper my ma se kar uit hom geswendel het – tot ek haar gedreig het. Die los ding was hy na my ma se huis gesleep het – terwyl ek langs my ma se doodsbed gesit het vir 5 weke… Die leemte wat ek as kind rondgedra het van ‘n pa wat eerder tyd saam enige ander kind wou spandeer en die handjievol kere in 20 jaar wat hy sy voete in my huis kom sit het…
In daardie oomblik, het ek verstaan dat ons net plekhouers was in sy lewe.
Ek kan myself troos met my ma se handgebreide truie (dis soos drukkies wat sy vir ons gemaak het) en in die spieel kyk om haar te sien maar net met my een skewe tand.
Ek dink nie meer alle mense wat hul ouers weggooi is slegte mense nie, want ek is ook nou een.