My ouma-hulle het ‘n vyeboom gehad in hul groot plaastuin. Daar was niks lekkerder as om ‘n groen vy oop te ruk en die sagte pienk vleis te verorber. Dit was hemels.

Ek onthou nog toe die lae tak begin meegee onder al die baie kleinkinders. Daardie boom was ‘n groot bron van kattekwaad, plek vir niggies en nefies en die beste boom om te klim want hy was laag op die grond.

Somtyds wonder ek of die ou vyeboom nog staan…

Daar is soveel goed wat ek kan onthou van my kinderdae op die plaas wat ek wens my kinders ook sou kon ervaar. Die realiteit is my ouers gaan een of ander tyd aftree en dan is my laaste plaas-konneksie weg.

As ek die 10 top dinge kan lys wat ek onthou is dit:

  1. My ma se groot kombuis waar ons Oats-koekies bak
  2. My pa wat altyd glimlag as hy deur die lande loop
  3. My pa se Brahmane wat blink in die son
  4. My lang oupa wat ‘n waatlemoen oopsny met ‘n ry kleinkinders wat wag
  5. My ouma met haar rooi hare omring deur meesal brunet en blonde kinders om haar lang eetkamertafel wat seker 24 kon sit
  6. Om in die rivier te swem en rond te dryf op binnebande
  7. Die lang pad kerk toe op ‘n Sondag, die stop by die Griek se kafee en Kentucky
  8. Die lang rye tabak met groen blare wat later in die stoor lê en sweet
  9. Die aande wat my ma en pa die ratel uit die hoender- en ganshok jaag in die middle van die nag
  10. Die ou boom wat so skeef gegroei het dat hy amper op die grond kon lê – dis waar ek en my kat kon lê en en na die wolke kyk

Ek wens partykeer ek kon net eenkeer weer op Hartebeespoort of Spekulatie rondloop, maar dan onthou ek hoe hartseer ek was na ek my stad-ouma-en-oupa se ou huis besoek het.

Daardie vye op my grootouers se plaas is ‘n metafoor vir hoe ‘n mens moet lewe. Pluk dit terwyl jy kan. Eet dit terwyl dit lekker soet is. Wag vir die volgende seisoen.

Author

Susann is a travel, parenting, beauty and lifestyle blogger in Johannesburg, South Africa.

Write A Comment