Gepubliseer met toestemming van Hanja Pienaar van Schalkwyk
As iemand weer sê die Boere en Suid-Afrikaners kan nie saamstaan nie wil ek sê om in een groot groep voor massas te staan om hul bang te maak, is ‘n vertoning. Niks om oor te juig nie….SAAMSTAAN is as boere, Mede Afrikaners, Vreemde mense sonder name of gesigte ons bystaan tydens ‘n vernietigende brand soos nog nooit deur ons boere gevoel nie. Die aarde wat bewe onder jou soos die vure met n groot geraas aangestorm kom maak jou baie bang! SAAMSTAAN is as iemand wat jy nie ken nie, vir die mense (mans en vrouens) wat vuur slaan yskoue water.. Koeldrank.. Toebroodjies.. Vrugte.. Oogdruppels.. Lip ice en pleisters gee…
Wanneer ons saam bang raak om teen die natuur te bly veg, nagte sonder slaap. Saam vuil word van die swart roet. Saam die reuk van brand ruik en proe selfs dae na die verwoesting. Wanneer naamlose skenkings kom van voer regdeur die land. Omgee pakkies kos vir mens en dier. Pale en drade vir heropbou van heining en krale word aangery want ‘n Saamstaner gee om. Wanneer groot geharde boere saam huil oor skades van verbrande weiding en aanplantings…
Wanneer jou man soos ‘n baba huil oor diere wat verskroei het.. Sommige moet hy nog laat uitsit want die dier ly te veel… As hy in die vuur se gloed ‘n koei aan die een kant van die draad sien wat se uier gebrand het en aan vlardes hang.. Haar oë uitgebrand en aan die anderkant van die draad is haar kalfie. Die verskriklike warm hitte en bloedrooi gloed het verander in stink brandreuk.. Swart en ongenaakbaar…
MAAR dit het ook weer plek gemaak vir… Warm liefde, oop hande, SAAMSTAANTROKKE vol omgeebokse vol Genade. Ons sê DANKIE vir Elke mens wat op watter manier ook al ons met die Brande gehelp het en ook nou na die tyd. Ek kan getuig SAAMSTAAN IS IN ONS DNA!!