Dis moeilik om te skryf as jy vassit in ‘n familiekrisis. Die woorde wil nie mooi vorm in jou kop en jou vingers haak vas.
Ek het al hier gebly, vir een jaar ‘n leeftyd gelede. Nou is ek terug vir my ma. Alleen, sonder my familie of my kat met te min klere en een paar skoene.
Ek is vasgevang in dié oomblik, die pad hospitaal toe en terug. Blou sirkels om my oë, wange wat half ingeval het en ‘n traan in albei oë wat nie wil uitval nie.
Dis asof ek wag vir ‘n wonderwerk, maar die realiteit is dat elke dag die laaste dag kan wees. Ons weet nie, die dokters weet nie – ons wag en hoop dat sy nog sal bly.