waterskildery geverf op my hande
berg met rooi-oranje lug
mense wat daarop loop
lang skadu’s agterna
tot die eerste druppel aan die kleure raak
als vloei deurmekaar soos dit in my lyk
verf op die vloer
waterskildery geverf op my hande
berg met rooi-oranje lug
mense wat daarop loop
lang skadu’s agterna
tot die eerste druppel aan die kleure raak
als vloei deurmekaar soos dit in my lyk
verf op die vloer
verby, verby, verby verby
die son die pyn
die reën en vuur
verby, verby, verby verby
die dag die nag
die lag en smag
verby, verby, verby verby
die roos die wyn
die naald en asyn
verby, verby, verby verby
jy, is verby
kyk na die hemel, geboue
kyk na die aarde, plaveisel
kyk na my hande, gevlek
kyk na my siel, dood
hoe kan ek op sterre wens waarvoor ek blind is
hoe kan ek natuur aanskou as dit versteen het
hoe kan ek liefkoos met lewelose hande
hoe kan ek ‘n sielmaat vind as ek geblus is
‘n Vleibrief,
vrybriewe,
derde-maandsvieringsbrief,
valentynskaart,
afsêbrief,
boodskapdief.
wat kan jy my vertel,
wat ek nie reeds gehoor?
wat kan jy my wys,
wat ek nie reeds gesien?
is daar nog vreemde plek,
vir my en vir jou?
Digter, Dromer, dom-verlore
‘n Wandeling uit my verlede
die toekoms in!
‘n Tree nader aan totale ontgogeling
‘n Handbreedte vanaf absolute gekheid.
Jy
Warm-ys wat skitter
soos ‘n blou saffier,
vermom met die gloed van vuur.
Jy kom op die golf van musiek
Skielik, uit die niet.
‘n Beskutting nooi my nader
Huiwerend, dog nuuskierig
om te weet, te voel,
beskut teen aanslae van oral.
‘n Skermutseling volg
my hart rebelleer
teen enige rede, teen enige raad
sodat dit die veerligste
tintelende gevoel
kan ervaar
Digter, Dromer, verlief-verlore
Die dans na die hemel begin…
Die dans na die hemel is
oordonder deur onhoorbare musiek.
Die dans na die hemel is
omring met mense wat onsigbaar is,
glad nie bestaan.
Niks maak saak
behalwe om saam met jou te wees,
by jou te wees
Uiteindelik is ons almal net
Aspoestertjies
wat die hemel ervaar
as die prins jou raaksien by die bal.
Middernag is als verby –
Ek verloor net nie my skoen,
maar my hart.
Digter, Dromer, hart-verlore
.
ek
sit by
my kers
en wens
elke dag se goud
wil langer brand
en die lig verder
kring en kring
tot aan die einde van my
lewensvlam
massa-aksie in rooi
blinkoog wag meisies op validasie van hul skoonheid
“het iemand my ook lief?”
vandag is nie meer belangrik as ander
klaar is ek gesertifiseer as ‘n beeld in eie reg
het ek meer as myself ook nodig?
Net vandag, net vir jou
‘n drukkie in jou oor
‘n soentjie op jou hart
net jy sal weet, want dis net vir jou
6 stoele om ‘n cafétafel
4 mense wat daar gesels
2 afwesig
1 is almal