Category

Gedigte

Category

My ma’t gesê ek moet vir my ‘n boer soek
Maar ek het mos nie ore aan my kop
My ma’t gevra wat ek in die stad wil soek
Maar ek weet klaar beter
My ma’t gesê ek is nie normaal
Maar ek verstaan dit nie

My pa’t gesê ek moet stadiger ry
Maar ek kruip soos ‘n slak
My pa’t gesê ek moet die mans die deur wys
Maar dit weet ek mos
My pa’t gesê ek is soos ‘n malhaas
Maar ek verstaan dit nie

My sus’t gesê ek moet minder praat
Maar ek weet ek skryf meer
My sus’t gesê ek moet my kar skoner hou
Maar hoe gemaak as my skoen dan breek
My sus’t gesê ek moet nie soos ‘n krismisboom lyk
Maar toe sit ek nog toonringe aan

Ek myself het gesê ek moet doen wat ek kan
Maar net wanneer ek wil
Ek myself het gesê ek moet aantrek soos ek wil
Maar net as ek so voel
Ek myself het gesê ek moet minder kitskos eet
Maar net as iemand vir my kosmaak

Ek myself praat gans te veel
Maar gelukkig lees ek dit nie hier!

Ek hou my asem op, want ek weet wat kom…

Dit was net nou die dag dat ek opgedaag het in hierdie grote stad vol vreemdelinge met net my tas en kar.
Net nou die dag het ek op ma en pa se stoep gesit en kyk vir die vallei daaronder en ligte aangeskakel soos ek deur die huis wandel.
Nou is ek hier, alleen in die donker – met iets wat kom.

Ek loop so lig soos ek kan, my oë wawyd oop.
Ek luister na die nag, vir als wat dalk mag kruip en kap.

My voet is net om die gang se hoek toe voel ek dit!
Dit het my! Die swart gevaarte het my om die enkels!
Ek gee nog een klein treetjie en sleep dit agterna, maar dit gee nie bes.
Ek gee maar op en raap die klein swart katjie op.

Onder die maanlig sonder jou
Dans ek kaal saam die wind
Die bome juig en die klippe klap
Want vanaand is ek onder die sterre sonder jou

Onder die maanlig sonder jou
Stroom vreugde uit my hart
Die sterre lag lekker saam
Want vanaand is ek onder die sterre sonder jou

Onder die maanlig sonder jou
Hoef ek nie weer te berou
Wat net gewoon na my kom
Want vanaand is ek onder die sterre sonder jou

Onder die maanlig sonder jou
Bly ek laat uit met die wind
En vind nuwe vriende
Want vanaand is ek onder die sterre sonder jou

Brief 1
Ok, sjoe!
Jy maak my bloos!
moet jou die naweek sien
dink meer aan jou
as aan werk – glad nie goed
wil jou graag in Jozi hê
maar is bang jy het verdraaide persepsie
is soveel minder sosiaal by huis
het 2 swakheid McDonalds en sjolade…
dan is daar die ander een,
mans met blonde hare blou oë
het nie komplikasies nodig!
wil net seker maak
dat niks halsoorkop met jou
wil nie net betrokke raak net omdat…
soek meer,
baie gevra
wil nou een ding doen waarvoor bangste is
– net een man in lewe hê.
Brief2
weet dit klink simpel,
maar het nog nie ophou dink aan jou
dink nie dis cool
wil heeltyd met jou praat
– oor enigiets,
solank ek net jou stem hoor!
Brief 3
hoop nie jy is een van daardie ouens
wat glo dat vrouens niks kan doen
is defintief nie hulpeloos kreatuur nie!!
hou nie van NEE ,
KAN enigiets doen
Brief 4
kan dit nie verduur
sal jou nie bel
moet van jou kant kom!
onsekerheid besig om my gek te dryf
moet weet!
wees eerder nou reguit
as wat ek seerkry
kan regtig nie so sit en wonder!
Brief 5
is so teleurgesteld!
het gedink jy hou van my,
wys net hoe verkeerd
kan myself skop
dat ek weer vir ou geval
jy is die laaste.
Brief 6
wind uitgeslaan
kan nie glo
jy het net nie opgedaag
kan dit nie glo
kon ek so verkeerd gewees?
wat is fout met jou?
niemand behoort so iets te doen
niemand.

eenmaal, in ‘n ander leeftyd
was my lewe amper daar
maar een somersaand
is my tas vir my gepak
my huis se deur voor my gesluit
verdwaas het ek gesit en trane vee
met min nommers wat middersnag sou ontwaak
en vir my ‘n kussing sou kon gee
laat daardie donker nag
het iemand my
die dag daarna het my swerwe begin
vertoef ‘n dag of twee by elke huis wat oopgaan
dertig lange dae sonder vaste huis

in herfs het ek stil in my huis getrek
en my gebokste lewe uitgepak
om oor te begin
op my eie
met net wat nodig is

laat in die lente
het ek die eerste blomme raakgesien
en een saam huis toe gebring

maande later het die see finaal my skoongewas
en ek het belowe om als te laat gaan

nog ‘n blaar op die grond
verdroog in die son
dwarrel weg in die wind
stamp stukkend teen die muur

nog ‘n blaar op die hoop
brand in die vuur
verdwyn saam die wind

… as dit so stil is
voel dit asof ek op ‘n rots
in die middel van ‘n onstuimige see sit,

sout , eet my oë
en water, wil my meermin maak…

al wat my bo hou,
is vrees vir die ewigdurende stilte,
die donker isolasie

‘n pêrelskulp omboei my hart.
so, keer ek terug na vasteland.

vasteland wil nog troos
skulp wegwring,
maar ampervis is nie meer heelmens…
gril vir warm troos
swem eerder in donker poel

…as dit so stil word,
verlang ampervis om weer heelmens te wees!

wil die sprokie hê
maar glo nie in sprokies

maan en sterre
is net ‘n halwe sprokie,
ek, wil die hele sprokie hê!

al lyk ek soos Sneeuwitjie,
is ek eintlik Aspoestertjie –
sonder sprokie

ek wil die sprokie hê,
‘n gelukkige einde,
maar sprokies is sprokies
en die lewe, die werklikheid!