Staan ek soos ‘n kind
En oopmond opkyk
na die staalkonstruksie
wat op-op-opstrek na die hemel
Tussen vier pilare wat wydsbeen staan
duisende stukke wat vashou
staan ek klein
Hysbakkabels wat kreun
en mense opvat na die boonste punt
koop ek my kaartjie in die skadu van die Eiffel
en wag my beurt om opgesleep te word
na waar die lug dun en die grond ver is
Ek hang so half, arm uitgestrek
en lê wit Parys vas
Ek blaas die aftog voor dit donker word
en sit onder en wag
vir die ligtespel