Tag

poetry

Browsing

Ek is nie my ouma, oupa of pa se dogter
Ek is haar dogter

Ek sien haar in die spieël
en in die skrefies van my oë wat lag

Ek sien haar in die kleintjie
wat dimpelend vir my lag

Ek hoor in my gedagtes die klik-klak van haar hande
met ‘n trui wat daaruit groei

Ek weet wie ek is
Ek is haar dogter
Al is sy lank reeds weg.

Dis soos ‘n lied
Om te stap in groot Parys

Die Eiffel op te ry
met hysbakke waardeur jy ver kan sien
Prente van bo te neem
oor wit landskap
Te voel hoe yster tril

Die Louvre gevul tot barstens
Mona Lisa so mooi
met haar klein glimlagmond
als onvervangbaar wondermooi

In strate langs die Sein
staan smouse met oorlogstrommels
parysenaars sit in rye na jou gedraai
vergaap hul aan mengelmoestoerisgemaal

https://instagram.com/p/BQVrvhUFUY-/

Jy dink jy weet alles,
want jy het dit mos gesien op TV,
tot jy daar staan, reg voor Stonehenge
en sien
dis groter
en veel meer
as wat jy ooit kon droom

Die stene staan hoër as jou huis
en is swaarder as jou kar
dis soos ‘n bullseye op ‘n groen tapyt
groot

Klipkolomme wat al om die son beweeg
speel met die skadus
mense laat wonder
oor wat hul daar maak

Die plek waar bloubloed nog regeer
waar kerke nog toeriste trek
en ‘n sambreel jou vergesel
waar ondergrondsetreine jou karwei
en mense suur lyk
dis Londen,
plek van Big Ben
en die Teems

Pas geland uit Afrika
met nuwe paspoort in die hand
klim ons op ‘n trein na Londen stad

Verkyk my aan die paleis, Oog van Londen
Vergryp my aan Starbucks
en tel my engelse ponde vir geskenke uit die vreemde

Die reën verbaas my
geen wonder die mense lyk so grys en suur

My eerste proe
van ‘n vasteland oorkant die see

Staan ek soos ‘n kind
En oopmond opkyk
na die staalkonstruksie
wat op-op-opstrek na die hemel

Tussen vier pilare wat wydsbeen staan
duisende stukke wat vashou
staan ek klein

Hysbakkabels wat kreun
en mense opvat na die boonste punt
koop ek my kaartjie in die skadu van die Eiffel
en wag my beurt om opgesleep te word
na waar die lug dun en die grond ver is

Ek hang so half, arm uitgestrek
en lê wit Parys vas
Ek blaas die aftog voor dit donker word
en sit onder en wag
vir die ligtespel

as jou siel hunker
na lande oor die see
jou voete brand
vir vreemde paaie
jou tong kwyl
vir iets nuuts
hoe kan jy nie jou tasse pak?

as jou siel hunker
om arms uitgestrek
mal koue lug te snuif
hoe kan jy nie jou tasse pak?

as jou voete brand
om als te sien
wil huppel na nog ‘n plek
hoe kan jy nie jou tasse pak?

as jou mond droog van lus
droom van ander taal
en vreemde kos
hoe kan jy nie jou tasse pak?

Eendag in die koue
daar op die plein in Moskou
wil ek klappertand kyk
na ‘n sprokieskerk

Een nag in die koue
daar in ou Moskou
wil ek verruk word
in die Bolshoi

Eendag in die koue
op die strate van Moskou
wil ek net sit en luister
na wat ek kan sien

Een nag in die koue
erens in ou Moskou
wil ek ook wegslaan saam vreemdtaliges
net een klein Vodka

My Ierland
hoe verlang ek tog
na jou groen lappies grond
en rojale mense

My Ierland
hoe verlang ek tog
na jou slanke bene
bedek met halwe lower

My Ierland
hoe verlang ek tog
om jou gebarste vel te streel
te luister na jou penniefluitstories en groen sprokies

My Ierland
Hoe verlang ek tog!
My Ierland,
ek weet nie hoe lank nog.