Tag

Afrikaans

Browsing

Sug, dit voel asof ek jare laas geslaap het en asof my jare nou my begin inhaal. Ek weet dis nie veraltyd nie, net tot baba deurslaap, maar ek is moeg tot in my tone.

Die laaste paar weke was ‘n tuimeltrein/mallemeule. Lexa, ons kleuter, is terug skooltoe. Beide van ons het ook ons eie besighede so dis ‘n stryd om wakker te bly of selfs net die moed bymekaar te skraap om na ‘n vergadering te gaan en “aangeskakel” te lyk. Dis nie maklik nie, maar ons doen dit want dis waarvoor ons vir 6 jaar gewerk het.

Ek is ‘n dromer omdat ek ‘n realis is.

Onbekend

Ek grap graag dat ek “Wonder Woman” is, maar ek doen net wat gedoen moet word – soos enige ander persoon wat in my skoene is. Die prys van om alles te doen wys ongelukkig vining op een plek, my gesig. Ek het darem die voordeel van nuwe produkte wat ek kan toets en party beland op my tafel en ander koop ek.

Die beste produkte van 2018 is definitief Optiphi, African Extracts Rooibos en BaoCare wat aan verskillende spektrums staan maar wat beide baie goeie resultate gelewer het.

2019, wel, ek is terug by dowwe gelaatskleur, plooie en zits… Als omdat ek nie die produkte gebruik het wat ek geweet het werk en myself afgeskeep het. Ek is regtig kwaad vir myself.

Watter velsorgprodukte toets ek nou?

Optiphi – ek het ‘n heerlike serum van hulle ontvang om te probeer. Ek kan amper dit beskryf as ‘n baie ryk room wat in jou vel intrek en wat dan verder werk. Ek het dit nou al tweekeer gebruik. Oor ‘n week of so sal ek deel wat dit gedoen het vir my vel.

Optiphi Intense Retinol Serum

Ek het ook Matsimela se aalwyn-reeks gekoop wat ook ‘n steenkoolseep insluit. Dit is die volgende reeks op my lys om te toets. Dit is ‘n uiters bekostigbare reeks en wel, ek hoop dit werk.

Splinternuwe blog in Afrikaans – is dit nodig?

Ek het lank gewik en weeg of ek nog iets wil aanpak, maar die grootste rede vir die blog is dat dit vir my is. Ek wil meer in my eie taal skryf en met mense in my taal praat. Soms sal die artikels ‘n vertaling van my Goddess Blog artikels wees en soms gaan dit oorspronklik en net vir die blog wees.

Asseblief, deel my blog met jou vriendinne. Lag saam my, huil saam my en miskien leer jy iets nuuts!

“Ek sal jou enkels kinkel” dis ‘n lyn uit Sy klink soos lente, ‘n Afrikaanse rolprent wat ek gisteraand op Showmax gekyk het. Dit was so ‘n pragtige storie. Ek weet nie hoe ek dit nie al vroeer gekyk het nie, want dis al in 2016 gemaak!

Sy klink soos lente is ‘n liefdesstorie. Ben, ‘n werktuigkundige, ontmoet Linda, ‘n suksesvolle exec, by ‘n stil kroeg. Hy herken haar as sy baas se dogter en toe sy vra wat hy doen antwoord hy – “ek’s in ‘n band”. Hulle flankeer ‘n bietjie en hy belowe hy sal leeus stoei vir haar ensovoorts…

Ek herken van die “pick-up lines” en daardie eerste ontmoeting in die kroeg het gemaak dat ek fliek gekyk het.

Afrikaanse rolprente is anders as Hollywood-rolprente. Die karakters is meer onskuldig, liefdesstories is soet, mooi en ruk aan jou hartsnare. Die karakters ontvou soos blomme en die taal rol soos heuning van hul tonge af.

Ek is getroud met ‘n regte egte Ier wat nie juis my taal kan praat nie, maar selfs hy geniet Afrikaanse rolprente. Pad na jou hart was sy eerste nie-Schuster fliek en selfs hy het dit geniet.

Ek dink ek gaan ‘n punt darvan maak om al die Afrikaanse rolprente te kyk – soos toe ek nog ‘n kind was!Ek gaan nie resensensies begin skryf nie maar eerder my liefde vir Afrikaans deel.

Dis soos ‘n lied
Om te stap in groot Parys

Die Eiffel op te ry
met hysbakke waardeur jy ver kan sien
Prente van bo te neem
oor wit landskap
Te voel hoe yster tril

Die Louvre gevul tot barstens
Mona Lisa so mooi
met haar klein glimlagmond
als onvervangbaar wondermooi

In strate langs die Sein
staan smouse met oorlogstrommels
parysenaars sit in rye na jou gedraai
vergaap hul aan mengelmoestoerisgemaal

https://instagram.com/p/BQVrvhUFUY-/

Jy dink jy weet alles,
want jy het dit mos gesien op TV,
tot jy daar staan, reg voor Stonehenge
en sien
dis groter
en veel meer
as wat jy ooit kon droom

Die stene staan hoër as jou huis
en is swaarder as jou kar
dis soos ‘n bullseye op ‘n groen tapyt
groot

Klipkolomme wat al om die son beweeg
speel met die skadus
mense laat wonder
oor wat hul daar maak

Die plek waar bloubloed nog regeer
waar kerke nog toeriste trek
en ‘n sambreel jou vergesel
waar ondergrondsetreine jou karwei
en mense suur lyk
dis Londen,
plek van Big Ben
en die Teems

Pas geland uit Afrika
met nuwe paspoort in die hand
klim ons op ‘n trein na Londen stad

Verkyk my aan die paleis, Oog van Londen
Vergryp my aan Starbucks
en tel my engelse ponde vir geskenke uit die vreemde

Die reën verbaas my
geen wonder die mense lyk so grys en suur

My eerste proe
van ‘n vasteland oorkant die see

Staan ek soos ‘n kind
En oopmond opkyk
na die staalkonstruksie
wat op-op-opstrek na die hemel

Tussen vier pilare wat wydsbeen staan
duisende stukke wat vashou
staan ek klein

Hysbakkabels wat kreun
en mense opvat na die boonste punt
koop ek my kaartjie in die skadu van die Eiffel
en wag my beurt om opgesleep te word
na waar die lug dun en die grond ver is

Ek hang so half, arm uitgestrek
en lê wit Parys vas
Ek blaas die aftog voor dit donker word
en sit onder en wag
vir die ligtespel

as jou siel hunker
na lande oor die see
jou voete brand
vir vreemde paaie
jou tong kwyl
vir iets nuuts
hoe kan jy nie jou tasse pak?

as jou siel hunker
om arms uitgestrek
mal koue lug te snuif
hoe kan jy nie jou tasse pak?

as jou voete brand
om als te sien
wil huppel na nog ‘n plek
hoe kan jy nie jou tasse pak?

as jou mond droog van lus
droom van ander taal
en vreemde kos
hoe kan jy nie jou tasse pak?

Eendag in die koue
daar op die plein in Moskou
wil ek klappertand kyk
na ‘n sprokieskerk

Een nag in die koue
daar in ou Moskou
wil ek verruk word
in die Bolshoi

Eendag in die koue
op die strate van Moskou
wil ek net sit en luister
na wat ek kan sien

Een nag in die koue
erens in ou Moskou
wil ek ook wegslaan saam vreemdtaliges
net een klein Vodka

My Ierland
hoe verlang ek tog
na jou groen lappies grond
en rojale mense

My Ierland
hoe verlang ek tog
na jou slanke bene
bedek met halwe lower

My Ierland
hoe verlang ek tog
om jou gebarste vel te streel
te luister na jou penniefluitstories en groen sprokies

My Ierland
Hoe verlang ek tog!
My Ierland,
ek weet nie hoe lank nog.